Arbeidsterapeut
Occupational Therapist
sensoriese integrasie 2

Die brein… en alles wat daar gebeur

Al die prikkels wat deur al die verskillende sintuie opgevang word, word gelyktydig en deurlopend na die brein gestuur. Daarom word die brein letterlik met miljoene prikkels per sekonde gebombardeer – iets wat ‘n mens heetemal sal oorweldig indien die brein dit nie reg hanteer nie.

Die brein het daarom verskillende prosesse om al hierdie prikkels mee te bestuur:

1. Die brein reguleer prikkels

Die brein reguleer die verskillende prikkels sodat die een nie die ander oorheers nie. Daarom sal dit (byvoorbeeld) harde musiek wat in die agtergrond speel as’t ware versag sodat jy ‘n persoon duideliker kan hoor wat met jou praat. Deur die prikkels so te reguleer (dit te verstel om in die regte verhouding tot mekaar te wees), stel dit jou in staat op spesifieke prikkels te fokus en daaraan aandag te gee. En ander te ignoreer.

Indien hierdie funksie van die brein nie die nodige rypheid het nie, veg die verskillende prikkels voortdurend vir jou aandag en kan jy nie regtig fokus op die belangrike prikkels waaraan jy moet aandag gee nie. Hiperaktiewe kinders het dikwels hierdie probleem. Omdat die brein nie die prikkels reguleer nie, dring elke prikkel aan om aandag. Gevolglik spring die kind se aandag van een prikkel na ‘n ander en kan hulle nie behoorlik fokus nie. Dan word sy gedrag gedisorganiseer en kan hy nie effektief op sy omgewing reageer nie.

2. Die brein interpreteer

Die brein interpreteer die prikkels sodat jy kan verstaan wat dit is wat gebeur. Indien jy onthou dat die prikkels slegs elektro-chemiese impulse is, sal jy verstaan hoekom dit nodig is dat die brein daaraan betekenis moet gee. Die betekenis wat jy daaraan gee, word dan bepaal deur jou ervaring van vroeër en die woordeskat wat jy opgebou het om dinge/gebeurtenisse te benoem.

Elke keer wat jy daaraan betekenis gee, is dit a’t ware ‘n mini aha-moment. Dan weet jy skielik: “Ek hoor ‘n toeter blaas… dis ‘n suur lemoen…. die stoom bo die ketel brand my”, ensovoorts. Hoe meer kere jy ‘n soortgelyke belewenis herken, hoe meer word dit in jou brein vasgelê en besef jy later byna onbewustelik wat gebeur.

Indien die prikkels verkeerd geïdentifiseer word, nie reg geïnterpreer word nie of nie benoem kan word nie, sal die kind noodwendig probleme hê om vanpas en georganiseerd op sy omgewing te reageer.

Kinders met visueel-perseptuele probleme is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hulle sien die trappie, maar interpreteer die hoogte daarvan foutief. Gevolglik val hulle maklik as hulle probeer afklim. Dieselfde geld van kinders wat swaartekrag onsekerheid of tasdefensiwiteit het. Hulle interpreteer die prikkels (byvoorbeeld iemand wat aan hulle raak, op ‘n gimnastiek bal rol, ens.) as negatief en vermy dit dan eerder.

3. Die brein integreer

Die brein integreer die prikkels sodat jy al die prikkels saam as ‘n geheel verstaan. Dink byvoorbeeld wanneer jy jou hand teen ‘n baie warm voorwerp plaas. Die inligting wat jy kry kom onder andere van jou tassintuie (jy voel die hitte), van jou oë (jy sien dis ‘n braaier op warm kole) en van jou proprioseptiewe organe (jy weet waar jou hand in ruimte is). Dis egter nie aparte prikkelstrome wat jy apart identifiseer nie. Die brein integreer dit in ‘n geheel sodat jy weet wat besig is om te gebeur: jy is besig om jou hand te brand.

Indien die brein nie die dele in ‘n geheel integreer nie, kan die kind nie sin maak van wat gebeur nie. Hy sal, byvoorbeeld, elke woord in ‘n sin as ‘n aparte betekenis lees – en nie die betekenis van die geheel van die sin kan verstaan nie.

4. Die brein kompenseer

Die brein kompenseer wanneer jy te min inligting van een van die sintuie ontvang. Hierdie funksie van die brein is juis ‘n poging om jou te help om meer effektief te reageer. Indien jy (byvoorbeeld) swaksiende is, sal die brein meer inligting soek en trek van jou gehoor of jou proprioseptiewe organe. Die gevolg is dat sodoende kompenseer vir die min inligtingvan die oë af.

Indien een sensoriese sisteem van ‘n kind verswak is, vergoed die brein as’t ware deur meer gebruik te maak van die inligting van ‘n ander sisteem. Indien hierdie ander sisteem om een of ander rede (byvoorveeld siekte) ook verswak, sal die kind net soveel meer gedisorganiseerd raak in sy gedrag.

5. Die brein beplan

Die brein beplan dan op grond van al die inligting hoe jy daarop moet reageer. In lig van die al die inligting beplan die brein dat jy ou hand van die warm rooster moet wegruk en dit dan in koue water gaan druk om die seer minder te maak. En so gou as moontlik tandepasta daarop moet smeer om die pyn te verlig.

‘n Kind met beplanningsprobleme sal byvoorbeeld sukkel om ‘n tas te pak of klere aan te trek – doodgewoon omdat hy nie die opeenvolging van aksies reg kan beplan nie. Die gevolg is dat hy sukkel en baie lank neem om sulke eenvoudige take uit te voer.

6. Die brein gee opdragte om op te tree

Aan die einde hierdie prosesse (wat blitsvinnig in die brein gebeur) word die nodige opdragte (weer eens elektro-chemiese impulse) via die motoriese senuwees na die spiere gestuur. En dan reageer jy op die prikkels. Jy ruk jou hand weg aan druk dit onder koue water in.

Indien daar ‘n probleem met enige van die voorafgaande prosesse is, sal die brein noodwendig foutiewe opdragte aan die liggaam stuur. En sal die kind onvanpas of gedisorganiseerd optree.

Wanneer jy hierdie prosesse in die brein verstaan, verstaan jy dat kinders nie net sukkel omdat hulle ‘n lae IK het nie. Hulle sukkel omdat daar iewers in die geheelfunksionering van die brein ‘n gebrek is (byvoorbeeld sensors wat nie reg werk nie of minimale breinbeserings), ‘n onvolwassenheid bestaan (byvoorbeeld dat hulle nog nie die prikkels kan identifiseer nie) of gedisorganiseerdheid voorkom (bvoorbeeld dat die brein die prikkels nie in ‘n geheel organiseer nie).

En dis juis op hierde terrein wat die arbeidsterapeut die verskil kan maak….

Kliek op hierdie skakel om meer te leer oor SENSORIESE INTEGRASIE

Kliek op hierdie skakel en ontdeek meer oor ‘n ARBEIDSTERAPIE MET KINDERS WAT SENSORIESE INTEGRASIE PROBLEME HET