Arbeidsterapeut
Occupational Therapist
Arbeidsterapie 2

Die terapie in arbeidsterapie…

Die uitgangspunt van arbeidsterapie is dat elke kind die vermoë het om te ontwikkel en/of aan te pas om meer funksioneel te wees. Navorsing en ervaring het egter gewys dat vroegtydige behandeling krities is vir die langtermyn sukses van terapie: hoe vroeër met terapie begin word, hoe meer beduidend is die uitkomste!

Daarom is dit belangrik om so gou as moontlik ‘n verwysing van ‘n mediese dokter te kry sodat die arbeidsterapeut met die kind kan begin werk. Die werk wat die arbeidsterapeut dan doen, het duidelike eienskappe:

Dit berus op die deeglike evaluering of assessering van (a) die kind se ontwikkelingsvlak en/of agterstande/gestremdheid en (b) die potensiaal van die kind. Hierdie evaluering word primêr gedoen deur middel van herhalende, kliniese observasies. Daar is egter ook verskeie punte waar dit gedoen word met behulp van effektiewe, gestandaardiseerde toetse.

Op grond van die evaluering word in die eerste plek doelwitte opgestel wat realisties is in terme van die kind se potensiaal. Dit is, byvoorbeeld, onrealisties, om volledige funksionaliteit as doelwit vir ‘n serebraal gestremde kind te stel. Die aard van sy gestremdheid maak dit onmoontlik. Wanneer die arbeidsterapeut die vlak van serebraal gestremdheid reg evalueer, kan doelwitte opgestel word in ooreenstemming met die vlak van gestremdheid. En kan die bestaande potensiaal (selfs al is dit beperk) gebruik word as vertrekpunt.

Met hierdie realistiese doelwitte in gedagte, ontwikkel die arbeidsterapeut dan ‘n unieke terapeutiese program vir die betrokke kind. Hierdie program berus op die werklike probleem by die kind (soos in die evaluering bepaal), die vlak van ontwikkeling van die kind self (soos deur die terapeut waargeneem) en die konteks (gesin, behuising, ens.) van die kind soos uit gesprekke blyk. Om die beste uitkomste te verkry, gebruik die arbeidsterapeut met ander woorde ‘n geheelbenadering in die ontwikkeling van die terapeutiese program – een wat vir die betrokke kind die beste sal werk.

Die primêre metode van terapie is spel en kreatiewe aktiwiteite

– hoofsaaklik omdat dit die inherente vermoë het om die kind te motiveer vir en te betrek in behandeling! Tegelykertyd is spel en kreatiewe aktiwiteite die natuurlikste en maklikste manier waarop die kind leer.

Die gebruik van spel en kreatiewe aktiwiteite gaan altyd gepaard met:

Die gradering van aktiwiteite

Om die ontwikkeling of herstel by die kind momentum te laat behou, word aktiwiteite progressief meer intens of omvangryk gemaak (gegradeer). Daar word die kind elke keer uitgedaag om een tree verder te gee. Tegelykertyd word die vaardigheid wat die kind moet aanleer sodanig gegradeer dat hy beleef dat hy dit geleidelik bemeester. En sodoende sukses beleef tydens terapie.

Afrigting

Die terapeut leer tydens terapie die kind om take op nuwe maniere te doen. Of hoe om ‘n groter (meer komplekse) taak in kleiner dele op te breek en elke onderdeel dan te bemeester. In die proses verduidelik die arbeidsterapeut dit aan die kind, plus demonstreer dit om die leerproses aan te help. Vandaar dat afrigting deel is van terapie – veral soverre dit nuwe vaardighede aanbetref.

Die werk van die arbeidsterapeut behels egter meer as net die individuele terapie met die kind. Dit sluit ook die volgende in:

  • verwysings vir verdere evaluasies, byvoorbeeld vir ‘n breinskandering om die omvang van die besering te bepaal;
  • konsultasies en samewerking met onderwysers, mediese dokters, fisioterapeute en spraakterapeute om die beste uitkomste vir die kind te behaal;
  • hulp aan (opleiding van) gesinslede en “caregivers” om die kind op die beste manier te hanteer, naamlik op ‘n manier wat die terapie aanvul en versterk;
  • die ontwikkeling van tuisprogramme wat die terapie aanvul; en
  • aanbevelings oor/afrigting vir die gebruik van hulpmiddels of die aanpassing van die omgewing waarin die kind moet funksioneer.

Kliek op hierdie skakel en lees mer oor DIE WERK VAN ‘N ARBEIDSTERAPEUT

Kliek op hierdie skakel en vind meer uit oor DIE WERK VAN ‘N ARBEIDSTERAPEUT MET PREEMIES