Arbeidsterapeut
Occupational Therapist
werk met kinders
Arbeidsterapie en die vaslê van gedragspatrone
Alle ingewikkelde aksies of take berus en bou altyd op bepaalde basiese vaardighede. Basiese vaardighede is dan herhalende reaksies wat in die brein vasgelê word sodat die kind vinnig en outomaties kan weet hoe om te reageer. Om ‘n boom te kan klim, moet jy bewus wees waar jou voete in die ruimte is. As jy dit nie weet nie, sal jy nooit die tak kan raaktrap nie. Jy moet deur herhaling leer hoe hoog om jou been op te tel, hoe om te trap dat jou voet nie gly nie, hoeveel krag nodig is om jou op te hys, hoe om vas te hou dat jy veilig is as jou voet gly, ensovoorts. Wanneer hierdie kleiner dele van ‘n groter taak deur herhaling vasgelê is, het jy die basiese vaardighede bemeester om die taak effektief uit te voer.
Op dieselfde manier is daar duisende basiese vaardighede waarop ingewikkelder aksies berus.
Indien hierdie basiese vaardighede nie behoorlik vasgelê is nie, kom dit later in die kind se lewe te voorskyn in die feit dat hy sukkel om meer ingewikkelde take te bemeester.
Daarom is die vaslegging van basiese vaardighede ‘n voorvereiste vir effektiewe gedrag. ‘n Gebrek aan begeleiding en afrigting om hierdie basiese vaardighede te bemeester – iets wat in die kinderjare moet gebeur – verooraak dan probleme wanneer die kind ouer word.
Hoe die arbeidsterapeut kan help…
Arbeidsterapeute werk op alle aspekte van die geheelfunksionering van die brein. Beide in die identifiseringvan probleme en in die behandeling daarvan. Daarom kan hulle die kind op verskeie maniere help om meer gepas en georganiseerd op te tree, onder andere deur:
1. Die verbetering van die manier waarop die kind sensoriese prikkels registreer, interpreteer en organiseer.
As voorbeeld hiervan kan na die tassintuie gekyk word. Onvolwassenheid in die proses van taswaarneming kan daartoe aanleiding gee dat die kind oorsensitief word vir tasprikkels – iets wat tasdefensiwiteit genoem word. Enige aanraking (mense, sekere soorte materiaal, kreukels in die laken, ensovoorts) is dan vir die kind met tasdefensiwiteit ‘n onaangename ervaring en kan hulle negatief en onvanpas laat reageer, byvoorbeeld deur sulke prikkels so ver as moontlik te vermy of uit proporsie negatief daarop te reageer. Tasdefensiwiteit het ook ander gevolge. Dit kan byvoorbeeld keer dat die kind sy omgewing ontgin en veroorsaak dat hulle makliker verhoudingsprobleme ontwikkel.
Aan die ander kant van die spektrum kan die kind onsensitief wees vir die tasprikkels. Die gevolg is dan dat hulle ekstra tasstimulasie. Hulle kry dan hierdie ekstra stimulasie deur agressief op te tree, ander te stamp en te stoot, boelies te wees en hulle speelgoed hardhandig te hanteer (en natuurlik te breek). Die gevolg van hierdie soeke na addisionele tasstimulasie is dikwels dat hulle ook verhoudingsprobleme ontwikkel.
Dieselfde soort oorsensitiwiteit of onsensitiwiteit kan by enige van die sensoriese sisteme voorkom en die kind se ontwikkeling en effektiwiteit op baie maniere negatief beïnvloed. Met die regte omgewing en stimulasie kan die tekortkominge egter oorbrug word en die kind gehelp word om beter te funksioneer.
Die arbeidsterapeut se werk op hierdie terrein behels die volgende:
- om, met behulp van toetsing, die aard en kwaliteit van sensoriese integrasie by die kind te bepaal;
- om die kind deur te help om sensoriese inligting meer geïntegreerd te hanteer, byvoorbeeld deur oefeninge en spel waarin die sensors gestimuleer word en die kind bygestaan word om prikkels korrek te interpreteer.
- om die kind te desensitiveer vir prikkels waarvoor hy oorsenstief is of te sensitiveer vir prikkels waarvoor hy onsensitief is;
- om die kind te leer om sy belewenis van die prikkels beter te beheer/bestuur; en
- om die kind te begelei en af te rig in basiese vaardighede wat ontbreek, byvoorbeeld hoe voorwerpe se posisie in die ruimte te bepaal; hoe om verhoudings tussen voorwerpe reg te peil, hoe om verskillende voorwerpe wat hy agtereenvolgens sien (bv. woorde in ‘n sin) met mekaar in verband te bring; hoe om voorwerpe waarvan hy net ‘n deel sien in sy gedagtes te voltooi sodat hy weet wat dit is,ensovoorts.
Deur hierdie werk te doen word die kind geleer om sy omgewing meer korrek waar te neem en te identifiseer. Gevolglik voel hy veiliger in sy omgewing, begin hy die omgewing meer ontgin en kan hy meer georganiseerd daarop reageer.
2. Die verbetering van die manier waarop die kind sy eie liggaam waarneem en hanteer.
Net soos die kind sy omgewing waarneem, neem hy ook sy eie liggaam waar. Die proprioseptiewe organe in die gewrigte stuur saam met die tasorgane in die vel prikkels na die brein oor onder andere die aantrekkingskrag van die aarde op die liggaam, die mate waarin die spiere gestrek/ontspan is, die hoek waarteen die gewrigte gebuig is, ens. Die manier waarop die brein al hierdie kinestetiese prikkels oor die liggaam verwerk, maak die kind deurentyd bewus van sy liggaam se posisie in die ruimte, dit is, waar elke liggaamsdeel is, watter voorwerpe in sy direkte omgewing is, hoe gebuig of gestrek sy been is, ens.
Hierdie waarneming is noodsaaklik vir die kind se bewegings. Indien hy nie sy liggaam korrek waarneem nie, sal hy nie sy bewegings behoorlik kan beheer en organiseer nie. Gevolglik sal hy stadig en lomp voorkom. Of hy sal oormatige en oneffektiewe bewegings uitvoer. In beide gevalle sal hy dikwels voorwerpe omstamp en homself makliker beseer.
Deur die herhaalde ervaring van sy liggaam ontwikkel die kind ‘n liggaamskema, dit is, ‘n interne gevoel van waar sy liggaam in ruimte is, watter kant van sy ligaam bo of onder is en in watter rigting sy liggaam gedraai is. Hierbenewens ontwiikel hy ook ‘n gevoel van hoe effektief sy ligaam reageer of nie reageer nie. Wanneer die liggaamskema reg vasgelê is, stel dit die kind in staat om reg te regaee rop sy omgewing.
Weer eens is die arbeidsterapeut se funksie om die aard en kwaliteit van hierdie prosesse deur middel van toetsing te bepaal. In terapie word die kind dan gehelp om sy bewegings meer te beheer en te organiseer. Sodoende word sy koördinasie verbeter en oormatige, oneffektiewe liggaamsbewegings of stadige, lomp bewegings vervang met beheerde, doelgerigte aksies.
3. Die verbetering van die proses waardeur aksies beplan word.
Die omgewing waarin ‘n mens leef, eis voortdurend reaksies van hom. Hierdie reaksies is egter nie ‘n enkele groot besluit wat hy eenmalig neem nie. Dit bestaan meestal uit ‘n aantal logiese, opeenvolgende stappe wat gevolg moet word. Die kind wat boom wil klim, moet byvoorbeeld eers sy skoene uittrek, daarna ‘n klip nader trek om die eerste tak te kan bykom, en daarna tak-vir-tak die regte takke kies om bo te kom. Dieselfde stappe moet weer in omgekeerde volgorde herhaal word wanneer hy afklim. Om effektief te kan funksioneer (aksies te kan verrig) moet ‘n mens dus in staat wees om hierdie aksies in konkrete, opeenvolgende stappe waar te neem en te beplan.
Hierdie proses van beplanning is iets wat ‘n kind aanleer vanaf sy vroegste kinderjare en kom as gevolg van take wat hy self moet beplan en uitvoer. Dit is noodsaaklik dat kinders hierdie proses van vroegs af aanleer, want in later jare vorm dit die basis vir meer abstrakte leerprosesse, o.a. van opeenvolgende lees van letters en woorde, probleemoplossing in wiskunde, ens.
Die arbeidsterapeut identifiseer deur middel van toetsing die mate van volwassenheid/onvolwassenheid wat op hierdie terrein by die kind bestaan. In terapie word die kind dan gehelp om deur middel van beplande, gegradeerde ervarings (meestal een of ander spel wat die kind geniet) tot groter volwassenheid op hierdie terrein te kom – iets wat hom noodwendig weer help om meer effektief te wees in sy werkverrigting in die alledaagse lewe.
4. Die verbetering van die proses waardeur motoriese aksies uitgevoer word.
Daar is veral twee maniere waarop die motoriese funksionering van die kind sy skoolwerk beïnvloed. Die eerste het te make met spiertonus. Die mens se spierstelsel moet, om effektief te kan funksioneer, ‘n bepaalde spanning of tonus hê. Indien hierdie spanning te hoog is, raak die kind spasties en kan hy nie vloeiende, ritmiese bewegings uitvoer nie. Indien dit egter laer as normaal is, kan hy nie sy liggaam vir ‘n lang tyd in spesifieke posisies handhaaf nie. Dit maak ook sy beheer oor en koördinasie van bewegings moeiliker.
‘n Mens kan hierdie probleem by die kind opmerk wanneer hy, byvoorbeeld, by ‘n lessenaar sit. Indien hy ‘n lae spiertonus het, sal hy onder andere kort-kort sy kop met sy hande ondersteun, gedurig sy posisie verander, in ‘n geboë postuur loop en sit, ens. Omdat die spiertonus laag is, raak hy gou moeg van sy pogings om sy liggaam in ‘n bepaalde posisie te hou. Gevolglik verloor hy sy konsentrasie en kan hy nie aandag gee nie Met al die gevolge wat dít vir sy skoolwerk kan hê.
Die rol van die arbeidsterapeut is dan om die kind te help om tegnieke te bemeester wat hom help om sy spiertonus te reguleer. Sodat hy sy liggaam in ‘n beter toestand van gereedheis kan bring om effektief op sy omgewing te reageer.
Die doel van die arbeidsterapeut se werk is in alle gevalle om die kind die vaardighede aan te leer wat hy nodig het om sukses in sy skoolwerk en daaglikse funksionering te beleef.
Aangesien die basiese vaardighede ‘n voorvereiste vir skoolwerk is, dra onvolwassenheid op hierdie terrein dikwels by tot die feit dat sommige kinders nog nie skoolgereed is nie. Asook dat ander leerprobleme op skool ontwikkel word. Hierdie probleme kan slegs aangespreek word deur die kind te help om op die vlak van basiese vaardighede te ontwikkel. Daar moet eers op die vlak van basiese vaardighede gewerk word sodat die kind die nodige volwassenheid op hierdie terrein ontwikkel. Dan sal hy in staat wees om beter te doen wanneer die skoolwerk ingewikkelder vaardighede van hom vereis.
Eers wanneer die basiese vaardighede bemeester is, kan die arbeidsterapeut ook aandag gee aan skoolvaardighede, byvoorbeeld oog-hand/hand-hand/hand-voet/oog-voet koördinasie, penbeheer en handskrif, wiskunde, leeswerk, spelling en die organisasie van akademiese take. Sodoende word hy gehelp om meer effektief te funksioneer. As mens en as skolier.
Kliek op hierdie skakel en ontdek die rol van BREINPROSESSE IN SENSORIESE INTEGRASIE
Kliek op hierdie skakel en ontdek meer oor die WERK VAN ‘N ARBEIDSTERAPEUT MET VOLWASSENES