Arbeidsterapeut
Occupational Therapist
Arbeidsterapie

Die wêreld van arbeidsterapie…

Die dinge wat ‘n mens doen (en die manier waarop jy dit doen) het noodwendig ‘n invloed op jou lewe. Indien jy, byvoorbeeld, sukkel met daaglikse aktiwiteite soos skryf, aantrek, konsentreer, balanseer of fisiese aktiwiteite, het dit dikwels ‘n negatiewe effek op jou selfvertroue, jou selfbeeld en jou interpersoonlike verhoudings. Wat jy deur die loop van elke dag (en deur die loop van jou hele lewe) doen, gee aan jou lewe sin en help jou om lewensvervulling te beleef. Indien jy nie effektief is in wat jy doen nie, word jou lewenskwaliteit noodwendig negatief  daardeur beïnvloed.

Dis juis hierdie effek wat aksies/take/arbeid op ‘n mens se lewe het wat die uitgangspunt van arbeidsterapie is. Daarom verwys die “arbeid” in arbeidsterapie na baie meer as werk (soos in ‘n beroep) wat jy doen. Dit verwys na enigiets wat ‘n persoon doen – vanaf basiese vaardighede (soos eet, klere aantrek, skryf) tot meer komplekse rolle soos ouerskap en ‘n beroep. En die arbeidsterapeut se funksie is om mense wat met enige van hierdie take sukkel, te help om meer funksioneel te word.

Iemand het dit as volg gestel: “Occupational Therapy retrains the body and brain to function more easily and efficiently with the tasks of everyday life.  Treatment focuses on the use of functional activities that are required to successfully participate in school, sports, play, work and routine tasks of daily living like dressing, organizing a back pack and transitioning between activities.”

Die rol van ‘n Arbeidsterapeut

Daarom is arbeidsterapeute eintlik “funksionele terapeute”, dit is, professionele persone wat ander mense help om meer funksioneel te word of die lewe meer suksesvol te hanteer. Die hulp wat hulle bied, kan dan enige aspek van die kliënt se lewe wees waar hulle een of ander taak of funksie moet vervul. In die lig hiervan raak dit duidelik hoekom die arbeidsterapeut oor ‘n baie breë spektrum van aktiwiteite kan bydra tot groter selfstandigheid, hoër effektiwiteit en groter lewensvervulling. Anders gestel: die arbeidsterapeut werk oor ‘n breë veld om die kliënte se potensiaal te ontsluit… sodat hulle binne hulle omstandighede en vermoëns optimaal kan funksioneer.

Om die werk van die arbeidsterapeut beter te verstaan, kan ‘n mens kortliks kyk na sommige van die velde waarin ‘n arbeidsterapeut werk:

Die arbeidsterapeut fasiliteer persone om hulle fisies-liggaamlike funksionaliteit te verbeter (byvoorbeeld ‘n volwassene wat ‘n beroerte gehad het, ‘n kind wat ‘n fisiese gebrek het, ‘n persoon wat ‘n amputasie gehad het, iemand wat handbeserings opgedoen het of ‘n baba wat voedingsprobleme ervaar);

Die arbeidsterapeut kan ook fokus op vaardighede wat persone in hul daaglikse take help (byvoorbeeld volwassene wat met geheueverlies moet leer saamleef, kinders wat sukkel om te konsentreer en daarom nie optimaal op skool kan presteer nie, ouers wat sukkel om kinders te dissiplineer);

Die arbeidsterapeut help om die omgewing te verander met die oog op beter funksionering (byvoorbeeld om huise meer toeganklik te maak vir rolstoelmense, om aanpassings te maak wat die risiko vir val by ouer mense beperk, om sensoriese omgewings te skep wat negatiewe gedrag by mense met gebreke verminder, of om werksplekke in te rig om beserings te beperk);

Die arbeidsterapeut gebruik psigososiale benaderings om mense met psigiese probleme te help (byvoorbeeld deur aktiwiteite aan te bied wat angs verminder, deur hul selfbeeld te verbeter of deur hul denkvaardighede te verbreed)

Die arbeidsterapeut help ook persone om aanpassings aan apparaat te maak of apparate te vind wat hulle help om beter te funksioneer (byvoorbeeld krane wat aangepas word vir mense met artritis, spalke wat kontrakture voorkom of looprame vir serebraal gestremde kinders).

Die arbeidsterapeut help kinders van alle ouderdomsgroepe met die ontwikkeling van vaardighede vir hulle daaglikse aktiwiteite (onder andere selfversorging, skoolwerk, spel, ontspanning en sosiale vaardighede).

Die arbeidsterapeut help beide kinders en volwassenes wat sensories defensief (oorsensitief vir klank, tas, lig, ensovoorts) is, om hulleself beter te reguleer sodat hulle hul omgewing beter kan bestuur.

Opleiding van Arbeidsterapeute

Om hierdie dienste te lewer, word die arbeidsterapeut opgelei in die psigiese, motoriese, neurologiese, sosiale en ontwikkelings aspekte van menswees. Die opleiding word sodanig gedoen dat hulle in hulle werk:

Persoonsgerig kan werk, dit is, dat hulle kan uitvind wat vir die pasiënt belangrik is en dan saam met hom/haar doelwitte vir die terapie ontwikkel;

‘n Geheelbenadering tot menswees kan volg, dit is, waarin rekening gehou word met die voortdurende interaksie tussen ‘n pasiënt se binnewêreld (motivering, persoonlikheid, oortuigings, ens.) en sy buitewêreld (sosiale ondersteuning, fisiese omstandighede, kulturele norme, ens.);

Mense met ‘n verskeidenheid metodes en benaderings kan help óf om te rehabiliteer (= om verlore vermoëns te herstel) óf om aan te pas (= om aan te pas by uitdagings, gebreke of siektes) óf om voorkomend op te tree (= om verdere agteruitgang te beperk); en

Aktiewe en kreatiewe terapeutiese tegnieke (soos spel en skeppende aktiwiteite) kan gebruik om mense in ‘n proses te betrek wat hulle terapie meer laat geniet en hulle meer laat waag. En hulle daarom help om optimaal binne hul omgewing te funksioneer en aan die lewe deel te neem.

Binne die breë wêreld van arbeidsterapie spesialiseer arbeidsterapeute dikwels in verskillende aspekte van die wêreld waarin hulle kan werk, byvoorbeeld in sensoriese integrasie, ledemaat rehabilitasie, hulpmiddels, kinders, volwassenes, ensovoorts.

Kliek op hierdie skakel en GAAN NA MY TUISBLAD

Kliek op hierdie skakel en ontdek meer oor DIE TERAPIE IN ARBEIDSTERAPIE