Arbeidsterapeut
Occupational Therapist
werk met preemies
Die arbeidsterapeut se rol in die behandeling van priem babas…
Die preemie (wat tot soveel as 14 weke te vroeg gebore word) kan nie soos ’n volterm baba op sy eie oorleef nie. Daarvoor is die vermoë om asem te haal, te voed, slaap-wakker siklusse te hanteer en homself/haarself te reguleer net te swak ontwikkel. Dis juis omdat hulle gebore is voordat die ontwikkeling in die baarmoeder voltooi is dat hulle sukkel om in die nuwe wêreld vol vreemde impulse te oorleef en aan te pas.
Wanneer ‘n mens dít verstaan, kan jy verstaan waarom die probleme van preemies baie verskil – afhangende van hoe lank voor volterm hulle gebore is.
Wanneer die arbeidsterapeut dan by die preemie betrokke raak, moet die behandeling noodwendig baie spesifiek tot die ontwikkeling van die baba gedoen word. Daarom doen die arbeidsterapeut ‘n noukeurige evaluasie van die volwassenheid van die baba se sisteme (onder andere van hul hartspoed, bloeddruk, asemhaling, temperatuur regulering en GI funksies).
Hierdie evaluasie word dan die basis waarop die arbeidsterapeut:
- Die hospitaal se personeel adviseer oor die inrigting van die omgewing van die preemie, byvoorbeeld oor die versagting van beligting en die vermindering van geraas;
- Riglyne daarstel vir die hantering van die preemie, byvoorbeeld oor die korrekte posisionering van die baba ten einde te help met beweging, regulering en energie besparing;
- Besluit watter sisteme en in watter volgorde die verskillende sisteme van die baba gestimuleer moet word om optimale ontwikkeling te bevorder; en
- Die ouers begelei in die verstaan en hantering van die preemie, sowel as in hulle voorbereiding vir wanneer die preemie huis toe gaan. As deel hiervan kan die terapeut die ouers, byvoorbeeld, help om beter voedingspatrone by die baba te vestig of die baba fisies te versorg. Aangesien die band tussen ouer en kind ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van die vroeggebore baba speel, word hulle ook gehelp met tegnieke soos “kangarooing” om hierdie band te versterk. Hulle word ook geleer om die leidrade reg te lees wat preemies gee wanneer hulle sisteme oorlaai word. Só kan hulle begin raaksien hoekom en wanneer hulle nie die baba moet aanraak of vashou nie.
Veral in die eerste dae na geboorte (wanneer die baba se funksionering nog nie gestabiliseer het nie) is dit krities belangrik dat die preemie die regte omstandighede moet hê en reg hanteer moet word. Daarom val die klem aanvanklik op hierdie aspek van hulle versorging. Sodra hulle meer stabiel raak, begin die arbeidsterapeut dan op ‘n gegradeerde manier met terapie, onder andere deur tasstimulasie, massering en proprioseptiewe stimulasie te doen. Hierdie terapie sal in ‘n sekere sin as voorkomend beskryf kan word, omdat dit die regte stimulasie doen wat die preemie help om verder te ontwikkel.
Aangesien daar baie vroeggebore babas is wat tydens geboorte óf suurstofnood beleef óf beserings opdoen, word daar ook vroeg reeds ‘n deeglike neurologiese evaluasie van die baba gedoen. Hierdie neurologiese evaluasie help om vroegtydig enige risiko faktore (byvoorbeeld oormatige of asimmetirese spierspanning) te identifiseer – iets wat ‘n aanduiding van breinbeserings kan wees. Indien sulke risiko faktore geïdentifiseer word, speel die arbeidsterapeut ‘n belangrike rol om in hierdie vroeë fase reeds te begin om normale bewegingspatrone by die baba te stimuleer.
Omdat die senuweestelsel van die preemie so onvolwasse is, is daar gewoonlik baie uitvalle op die terrein van sensoriese integrasie. Gevolglik is die baba meer as normaalweg geïrriteerd met aanraking, hulle sukkel om van ‘n wakker toestand oor te gaan na slaap, hulle het voedingsprobleme (stoor die tiet van die bottel uit hulle mond, sukkel om te sluk, ens.). Die rol van die arbeidsterapeut is dan om die ouer te help om hierdie gedrag te verstaan en maniere te vind om die preemie te help om dit te oorkom.
Wanneer die preemie ‘n hoë risiko baba is (een wat op 25 -28 weke ouderdom gebore is) word al die probleme geïntensifeer. Hierdie babas bly ook vir langer tye in die intensiewe eenheid en is baie moeiliker om te hanteer. Gevolglik beleef die ouers (wat na die koms van die baba uitgesien het) emosionele trauma. Deel van die arbeidsterapeut se werk is om hulle te help om die situasie (en hulle eie trauma) te verwerk. Sodat hulle meer funksioneel kan wees en die baba kan help om te oorleef en aan te pas.
Kliek op hierdie skakel en lees meer oor die TERAPIE IN ARBEIDSTERAPIE
Kliek op hierdie skakel OM MEER TE LEER OOR ARBEIDSTERAPIE MET BABAS